Friday 22 November 2013

alleen

hoekom is ek vanaand so alleen,
soos elke ander aand

maar juis vanaand

my begeerte vir gesels
met iemand wat my hart ken

maar met God praat ek
heeldag , aldag

ek wil jou ‘n drukkie gee
en dit en dat gesels

kom ons deel ‘n rooiwyn,
sit net by my en praat

kom ons praat tot ons woorde opdroog
en mekaar in stilte bekoor

maar vanaand verteer die alleenheid my,
hoe verlang ek dan so?

my hart moet nog behoort


                                                                       dirk van der bank


lil se gedig

liewe lil
my hartsvriendin

dis nooit te laat

deur ons hart se verloor
wie was daar anders

vir mekaar moes ons oopmaak

jou oor, my dankbaarheid
my oor, jou verlossing

saam het ons gebid
en vertrou
dat kalmte sal heers

jou hart is nou in goeie hande
jou pad lê met liefde besaai

lil dis seer
dis ook maar nuut elke keer
jou oë se rooi vertel

maar kyk die toekoms

dis blommetyd in winter
jy is 'n lentekind in herfs
en jou siel somermooi

dankie lil
my hartsvriendin



                                                                                                                dirk van der bank

Thursday 7 March 2013



My gemoed is 90’s musiek vandag
Nostalgies opgewek, lekker
Tussen die bakker se choc chip koekies
Koue waatlemoen stukke en die see
Vrede
Ek is weer vir n slag honger vir kos, vir leer, vir wees
Interessant wat ‘n gebreekte hart kan bring
Nie net altyd seer nie maar ook bevryding op ‘n manier
‘n Gevoel van blydskap dat die pad moes eindig
Al wou ek dit nie so gehad het nie, ek wou glad nie
Maar die mens moet oorgee aan die lewe en sy pad met jou
Dis nie altyd sleg nie
Die geheim is om altyd soos die rykste man te voel met jou hart
Jy moet skatryk glimlag
Seëninge ,liefde en vrede kom altyd na elkeen van ons toe
Dis hoe jy dit  waardeer, deur al die klein dinge van die lewe
So maak dit saak

Dirk                                          

Saturday 19 January 2013

Wens



Ek wens ek kon musiek maak,
Dan kon ek vir jou die mooiste love song komponeer.

Ek wens ek was ‘n skildenaar,
Ek sou die mooiste landskap vir jou skilder en dit die mooiste raam gee.

Dalk ‘n digter?
‘n Hele bundel opgedra aan jou met verse wat rym soos die glimlag op jou gesig.

Miskien ‘n wêreld reisiger,
Net sodat ek die mooiste van elke plek vir jou kan saambring.

Ek wens ek was n wynmaker,
Net om die beste druiwe vir jou te pars, ‘n wyn na jou te vernoem en dit saam met jou te geniet.

Ek sou graag wou leer van blomme,
Vir as jy wakker word in die oggende, dat daar altyd die mooiste blom in jou hart kan groei.

Tog bly ek, ek

Die musiek en skilderye, die gedigte en wêreld reise
Die blomme en die beste wyn

Dis die aarde se dinge

My grootste wens bly eenvoudig

Om in jou arms wakker te word,
Jou styf vas te hou
en
jou eenvoudig net lief te hê



dirk van der bank