Sunday 6 May 2012

soet olywe en handevashou


Riebeek kasteel is `n spesiale plek. `n Plek wat nogal onverhoeds so onder jou vel kruip en dit slaan jou eers die dag daarna.
Tussen die trekkerwaens met mense wat heildronke instel, voete in en uit by winkels en die asemrowende wintermiddag sonnetjie, het ons op die hotel se stoep gaan troos soek vir honger mae en `n glasie wit.
Die twee groot houtborde is neergesit voor ons met `n landskap van olywe, smere, konserf en salami.
Dit was waarlik `n feesmaal piekniek uitgepak op n deftige tafeldoek met sulke geseende geselskap.
Hoofmaal was engelhaar pasta wat in die lekkerste tamatie, olyf, ansjovis en kappertjie sous bedien was.
Na `n wandeling deur die strate en die vonds van `n pragtige koffie plekkie het ons vroeg gaan aandete eet om die koue te ontwyk.
By die BarBarBlackSheep restaurant was daar dromme met vuur en hitte wat met jou wang dans en `n pragtige mengelmoes van allerhande dinge wat die aandag trek en mens laat glimlag.
Ek het hulle wen-hoenderpastei gehad wat kos vir die koue is ... warm en smullekker!
En die hele dag was gekroon met vriendskap en `n spesiale persoon se hand wat ek kon vashou en glimlag daaroor met die tevredenheid wat die dorpie oor jou bring...

No comments:

Post a Comment